GEORGE NUUS – In teenstelling met feeste wat oor die namiddag begin afwater – veral dié wat oor twee dae strek – het die bier- en kosfees in Wilderness verlede naweek behoorlik ingeskop soos die son sy strale terugtrek.
Die Thousand Sensations Crafted Beer and Food Festival is vanjaar twee jaar oud, maar is vir die eerste keer by die Wilderness Hotel aangebied. Feeseienaar en hoofborg, Alewijn Dippenaar, is in sy noppies met die fees se reusesukses na twee dae se drink, skink en proe, verlede Vrydag en Saterdag.
“Vir die eerste keer het ons ‘n volwaardige signature event in Wilderness wat reg laat geskied aan die hopsverbouing in George,” het Dippenaar gesê.
Altesaam 26 bierbrouerye het aan die fees deelgeneem, van sover as die Cederberge, Stellenbosch, Kaapstad, Somerset-Wes, Hermanus, Clanwilliam, Robertson, Port Elizabeth en Natal. Plaaslik het brouerye van George, Mosselbaai, Knysna en Sedgefield hulle ware op die proe gestel.
Sowat 250 mense het sewe spesiale proesessies bygewoon wat deur drie skrywers van boeke oor Craft-bier aangebied is – Holger Meier, Lucy Corné en Jaques van Zyl – sowel as die kortverhaalskrywer Johan Bakkes.
Met rugby wat op die groot skerm vertoon is, kon besoekers verlede Saterdag saam die Springbokke se nederlaag verduur. Die heerlike bier het gelukkig gehelp om die teleurstelling te versag.
ARTIKEL EN FOTO’S: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD JOERNALIS
‘Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus’
24 September 2015